Psalms 115
  • 1 Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.
  • 2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?
  • 3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.
  • 4 Hulle afgode is silwer en goud, 'n werk van mensehande.
  • 5 Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie;
  • 6 ore het hulle, maar hoor nie; hulle het 'n neus, maar ruik nie;
  • 7 hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie.
  • 8 Die wat hulle maak, sal net soos hulle word- elkeen wat op hulle vertrou.
  • 9 Israel, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
  • 10 Huis van Aäron, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
  • 11 Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild.
  • 12 Die HERE het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Israel seën, Hy sal die huis van Aäron seën.
  • 13 Hy sal diegene seën wat die HERE vrees, die kleintjies saam met die grotes.
  • 14 Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders.
  • 15 Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
  • 16 Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.
  • 17 Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie;
  • 18 maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja!