Psalms 55
Afrikaans Die Heilige Bybel · 24 verses
- 1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. n Onderwysing van Dawid.
- 2 o God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie.
- 3 Luister na my en verhoor my; in my onrus dwaal ek rond en is verward,
- 4 weens die geroep van die vyand, weens die geraas van die goddelose; want hulle stort onreg op my af, en in toorn behandel hulle my as vyand.
- 5 My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval.
- 6 Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my.
- 7 Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos 'n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly!
- 8 Kyk, ek sou ver wegvlug; ek sou vernag in die woestyn! Sela.
- 9 Gou sou ek vir my 'n skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm.
- 10 Verwar, Here, verdeel hulle spraak, want ek sien geweld en twis in die stad.
- 11 Dag en nag omring hulle dit op sy mure, en binnekant is onreg en moeite.
- 12 Wat onheil aanbring, is daarbinne, en verdrukking en bedrog wyk nie van sy markplein nie.
- 13 Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek;
- 14 maar jy, 'n man soos ek, my vriend en my vertroude!
- 15 Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare.
- 16 Laat die dood hulle oorval, laat hulle lewendig in die doderyk neerdaal; want boosheid is in hulle woning, in hulle binneste.
- 17 Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos.
- 18 Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem.
- 19 Hy verlos my siel in vrede van die stryd teen my, want met menigtes is hulle teen my.
- 20 God sal hoor en hulle antwoord; ja, Hy wat op die troon sit van lankal af, Sela; omdat by hulle geen verbetering is en hulle God nie vrees nie.
- 21 Hy het sy hande uitgesteek teen die wat in vrede met hom geleef het; hy het sy verbond ontheilig.
- 22 Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde.
- 23 Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.
- 24 Maar U, o God, sal hulle laat neerdaal in die put van vernietiging; manne van bloed en bedrog sal hulle dae nie tot op die helfte bring nie; maar ék vertrou op U.