Psalms 74
  • 1 'n Onderwysing van Asaf. o God, waarom het U vir altyd verstoot? Waarom rook u toorn teen die skape van u weide?
  • 2 Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het.
  • 3 Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel.
  • 4 U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel.
  • 5 Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in 'n digte plek bome.
  • 6 En nou- die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan.
  • 7 Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.
  • 8 Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.
  • 9 Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.
  • 10 Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?
  • 11 Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!
  • 12 Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde.
  • 13 U het deur u sterkte die see geklief; U het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek.
  • 14 U het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir 'n volk- vir woestyndiere.
  • 15 U het fontein en stroom oopgeslaan; U het standhoudende riviere laat opdroog.
  • 16 Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; U het hemelligte en son vasgestel.
  • 17 U het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, U het hulle geformeer.
  • 18 Dink hieraan: Die vyand het die HERE gesmaad, en 'n dwase volk het u Naam verag.
  • 19 Gee aan die wilde diere die siel van u tortelduif nie oor nie; vergeet nie vir altyd die lewe van u ellendiges nie.
  • 20 Aanskou die verbond, want die donker plekke van die land is vol wonings van geweld.
  • 21 Laat die verdrukte nie beskaamd terugkom nie; laat die ellendige en behoeftige u Naam prys.
  • 22 Staan op, o God, verdedig u saak; dink aan die smaad wat U die hele dag aangedoen word deur 'n dwaas.
  • 23 Vergeet nie die geroep van u teëstanders nie- die rumoer van u opstandige vyande, wat altyddeur opgaan!