Psalms 137
  • 1 By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.
  • 2 Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang.
  • 3 Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van 'n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons 'n Sionslied.
  • 4 Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in 'n vreemde land?
  • 5 As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!
  • 6 Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.
  • 7 HERE, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!
  • 8 o Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het!
  • 9 Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!