Psalms 102
Afrikaans Die Heilige Bybel · 29 verses
- 1 'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE.
- 2 o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!
- 3 Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!
- 4 Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd.
- 5 Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet.
- 6 Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.
- 7 Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope.
- 8 Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak.
- 9 Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek.
- 10 Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane,
- 11 vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp.
- 12 My dae is soos 'n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek.
- 13 Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.
- 14 U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom.
- 15 Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin.
- 16 Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid;
- 17 omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het,
- 18 Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.
- 19 Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof;
- 20 omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het,
- 21 om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood;
- 22 sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem,
- 23 as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien.
- 24 Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort.
- 25 My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie- u jare is van geslag tot geslag!
- 26 In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.
- 27 Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn.
- 28 Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.
- 29 Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.