Psalms 19
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.
- 2 Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
- 3 Die een dag stort vir die ander 'n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:
- 4 daar is geen spraak en daar is geen woorde nie- onhoorbaar is hulle stem.
- 5 Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin 'n tent gemaak;
- 6 en dié is soos 'n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos 'n held om die pad te loop.
- 7 Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.
- 8 Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
- 9 Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.
- 10 Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid- tesame is hulle regverdig.
- 11 Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.
- 12 Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.
- 13 Die afdwalinge-wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is.
- 14 Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.
- 15 Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!