Psalms 148
  • 1 Halleluja! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!
  • 2 Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!
  • 3 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!
  • 4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!
  • 5 Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee- en hulle is geskape.
  • 6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het 'n wet gegee wat geeneen oortree nie.
  • 7 Loof die HERE van die aarde af- groot seediere en alle dieptes!
  • 8 Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring;
  • 9 berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome,
  • 10 wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls;
  • 11 konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde;
  • 12 jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges-
  • 13 laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!
  • 14 En Hy het 'n horing vir sy volk verhef: 'n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is. Halleluja!