Psalms 149
Afrikaans Die Heilige Bybel · 9 verses
- 1 Halleluja! Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
- 2 Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
- 3 Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.
- 4 Want die HERE het 'n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil.
- 5 Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde.
- 6 Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand;
- 7 om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke;
- 8 om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;
- 9 om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!