Psalms 97
  • 1 Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!
  • 2 Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.
  • 3 'n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand.
  • 4 Sy bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe.
  • 5 Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde.
  • 6 Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.
  • 7 Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.
  • 8 Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele, o HERE!
  • 9 Want U, HERE, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode.
  • 10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.
  • 11 Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.
  • 12 o Regverdiges, wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam!