Psalms 96
Afrikaans Die Heilige Bybel · 13 verses
- 1 Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde!
- 2 Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.
- 3 Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.
- 4 Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode.
- 5 Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.
- 6 Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom.
- 7 Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte.
- 8 Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe.
- 9 Aanbid die HERE in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde!
- 10 Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.
- 11 Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis.
- 12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel
- 13 voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.