Psalms 12
  • 1 Vir die musiekleier; met basstem. 'n Psalm van Dawid.
  • 2 Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders.
  • 3 Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.
  • 4 Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,
  • 5 hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?
  • 6 Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag.
  • 7 Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.
  • 8 U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.
  • 9 Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders.