Psalms 68
Afrikaans Die Heilige Bybel · 36 verses
- 1 Vir die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.
- 2 God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
- 3 Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
- 4 Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
- 5 Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
- 6 'n Vader van die wese en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
- 7 God laat die eensames woon in 'n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in 'n dor land.
- 8 o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
- 9 het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
- 10 Met 'n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het U dit versterk.
- 11 U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
- 12 Die Here het die woord laat hoor- die vroue wat die goeie tyding gebring het, was 'n groot skare:
- 13 Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
- 14 As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
- 15 Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
- 16 'n Berg van God is die berg Basan, 'n berg met toppe is die berg Basan.
- 17 Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.
- 18 Die waens van God is tien duisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
- 19 U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God!
- 20 Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
- 21 God is vir ons 'n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.
- 22 Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.
- 23 Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see;
- 24 sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê.
- 25 o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.
- 26 Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan.
- 27 Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel!
- 28 Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda- hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali.
- 29 Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het!
- 30 Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring.
- 31 Dreig die wilde gedierte van die riet- die trop stiere saam met die kalwers van die volke- die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë.
- 32 Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.
- 33 o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela.
- 34 Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, 'n magtige stem.
- 35 Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.
- 36 Vreeslik is God uit jou heiligdomme, o Israel! Die God van Israel- Hy gee aan die volk sterkte en kragte. Geloofd sy God!