Psalms 109
Afrikaans Die Heilige Bybel · 31 verses
- 1 Vir die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. o God van my lof, moenie swyg nie!
- 2 Want hulle het die mond van die goddelose en die mond van bedrog teen my oopgemaak; hulle het met my gespreek met 'n leuenagtige tong,
- 3 en my met woorde van haat omring; ja, hulle het my sonder oorsaak beveg.
- 4 Vir my liefde behandel hulle my vyandig, terwyl ek tog gedurig bid.
- 5 En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.
- 6 Stel 'n goddelose oor hom en laat 'n teëstander staan aan sy regterhand.
- 7 As hy geoordeel word, laat hom as skuldige uitgaan, en laat sy gebed sonde word.
- 8 Laat sy dae min wees; laat 'n ander sy amp neem.
- 9 Laat sy kinders wese word en sy vrou 'n weduwee;
- 10 en laat sy kinders oral rondswerwe en bedel en brood soek, weg van hulle puinhope af.
- 11 Laat die skuldeiser alles neem wat hy het, en laat vreemdes sy goed buitmaak.
- 12 Laat hom niemand hê wie se guns bestendig is, en laat niemand hom oor sy wese ontferm nie.
- 13 Laat sy nakomelinge uitgeroei word; laat hulle naam uitgedelg word in die volgende geslag.
- 14 Laat die HERE gedagtig wees aan die ongeregtigheid van sy vaders, en laat die sonde van sy moeder nie uitgedelg word nie.
- 15 Laat dié altyddeur voor die HERE wees, dat Hy hulle gedagtenis van die aarde af kan uitroei;
- 16 omdat hy nie daaraan gedink het om guns te bewys nie, maar die ellendige en behoeftige man vervolg het en die moedelose van hart, om hom dood te maak.
- 17 Ja, hy het die vloek liefgehad en- dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en- dit het ver van hom af gebly.
- 18 Hy het die vloek aangetrek soos 'n kleed en- dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.
- 19 Laat dit vir hom wees soos 'n kleed waarin hy hom toedraai, en 'n gordel wat hy altyddeur ombind.
- 20 Laat dit die loon van my teëstanders wees vanweë die HERE, en van hulle wat kwaad spreek teen my.
- 21 Maar U, o HERE Here, maak dit goed met my om u Naam ontwil; omdat u goedertierenheid goed is, red my.
- 22 Want ek is ellendig en behoeftig, en my hart is deurwond in my binneste.
- 23 Ek gaan heen soos 'n skaduwee as dit lank word; ek is afgeskud soos 'n sprinkaan.
- 24 My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.
- 25 En ék het vir hulle 'n smaad geword; as hulle my sien, skud hulle hul hoof.
- 26 Help my, HERE my God! Verlos my na u goedertierenheid,
- 27 sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o HERE, het dit gedoen.
- 28 Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly.
- 29 Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in 'n mantel.
- 30 Ek sal die HERE hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys;
- 31 want Hy staan aan die regterhand van die behoeftige om hom te verlos van die wat hom veroordeel.