Psalms 49
  • 1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
  • 2 Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld,
  • 3 geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm!
  • 4 My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand.
  • 5 Ek sal my oor neig tot 'n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter.
  • 6 Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring-
  • 7 die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom?
  • 8 Niemand kan ooit 'n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie
  • 9 (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend),
  • 10 dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.
  • 11 Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na.
  • 12 Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name.
  • 13 Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan.
  • 14 Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde 'n behae het. Sela.
  • 15 Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.
  • 16 Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela.
  • 17 Wees nie bevrees as 'n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie;
  • 18 want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie.
  • 19 Al ag hy homself gelukkig in sy lewe- en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen-
  • 20 tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie.
  • 21 Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan.