Psalms 144
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 'n Psalm van Dawid. Geloofd sy die HERE, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer-
- 2 my goedertierenheid en my bergvesting, my skans en my redder, my skild en die Een by wie ek skuil, wat my volk aan my onderwerp.
- 3 o HERE, wat is die mens dat U hom ken, die mensekind dat U op hom ag gee?
- 4 Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos 'n vlugtige skaduwee.
- 5 Buig u hemele, HERE, en daal neer; raak die berge aan, dat hulle rook!
- 6 Slinger bliksems en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!
- 7 Strek uit die hoogte u hande uit; ruk my uit, en red my uit groot waters, uit die hand van vreemdes,
- 8 wie se mond leuens spreek en wie se regterhand 'n regterhand van bedrog is.
- 9 o God, ek wil 'n nuwe lied sing tot u eer, op die tiensnarige harp wil ek U psalmsing.
- 10 U wat aan konings die oorwinning gee, wat u kneg Dawid ontruk aan die gevaarlike swaard.
- 11 Ruk my uit en red my uit die hand van vreemdes, wie se mond leuens spreek en wie se regterhand 'n regterhand van bedrog is;
- 12 sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van 'n paleis;
- 13 dat ons skure vol mag wees, wat allerhande soorte voorraad oplewer; ons kleinvee by duisende mag aanteel, by tien duisende vermeerder word op ons velde;
- 14 ons beeste gelaai mag wees; geen bres in ons mure en geen uittog daaruit, en geen geskreeu op ons pleine nie.
- 15 Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan; welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!