Psalms 24
  • 1 'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
  • 2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.
  • 3 Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?
  • 4 Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
  • 5 Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.
  • 6 Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek- dit is Jakob. Sela.
  • 7 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
  • 8 Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.
  • 9 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
  • 10 Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare- Hy is die Erekoning! Sela.