Psalms 105
  • 1 Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
  • 2 Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
  • 3 Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.
  • 4 Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
  • 5 Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
  • 6 o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
  • 7 Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
  • 8 Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte-
  • 9 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
  • 10 wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
  • 11 met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
  • 12 Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
  • 13 en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
  • 14 het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
  • 15 Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
  • 16 En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek.
  • 17 Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
  • 18 Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom,
  • 19 tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het.
  • 20 Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat.
  • 21 Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;
  • 22 om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
  • 23 Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.
  • 24 En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.
  • 25 Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
  • 26 Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.
  • 27 Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.
  • 28 Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.
  • 29 Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.
  • 30 Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.
  • 31 Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.
  • 32 Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.
  • 33 En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.
  • 34 Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,
  • 35 wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.
  • 36 Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.
  • 37 Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
  • 38 Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.
  • 39 Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.
  • 40 Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.
  • 41 Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke- 'n rivier!
  • 42 Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.
  • 43 En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.
  • 44 En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
  • 45 dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!