Psalms 132
  • 1 'n Bedevaartslied. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite;
  • 2 dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob:
  • 3 Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie;
  • 4 sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie,
  • 5 totdat ek 'n plek vind vir die HERE, 'n woning vir die Magtige van Jakob!
  • 6 Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär.
  • 7 Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete.
  • 8 Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte!
  • 9 Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.
  • 10 Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.
  • 11 Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.
  • 12 As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit.
  • 13 Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê:
  • 14 Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.
  • 15 Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood;
  • 16 en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel.
  • 17 Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde 'n lamp toeberei.
  • 18 Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.