Psalms 89
Afrikaans Die Heilige Bybel · 53 verses
- 1 'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet.
- 2 Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.
- 3 Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele- daar bevestig U u trou.
- 4 Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
- 5 Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.
- 6 En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges.
- 7 Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge,
- 8 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?
- 9 o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!
- 10 U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.
- 11 U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.
- 12 Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid- U het dit gegrond.
- 13 Die noorde en die suide- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.
- 14 U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.
- 15 Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.
- 16 Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig.
- 17 In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.
- 18 Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.
- 19 Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.
- 20 Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef.
- 21 Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,
- 22 met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.
- 23 Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;
- 24 maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.
- 25 En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.
- 26 En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.
- 27 Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!
- 28 Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.
- 29 Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.
- 30 En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.
- 31 As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;
- 32 as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,
- 33 dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.
- 34 Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.
- 35 Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
- 36 Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!
- 37 Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.
- 38 Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.
- 39 Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.
- 40 U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.
- 41 U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak.
- 42 Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword.
- 43 U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.
- 44 Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.
- 45 U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.
- 46 U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.
- 47 Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur?
- 48 Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!
- 49 Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.
- 50 Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou?
- 51 Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,
- 52 waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.
- 53 Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.