Psalms 37
  • 1 'n Psalm van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie;
  • 2 want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.
  • 3 Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
  • 4 en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
  • 5 Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;
  • 6 en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.
  • 7 Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.
  • 8 He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.
  • 9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.
  • 10 Wau. En nog 'n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.
  • 11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
  • 12 Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.
  • 13 Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.
  • 14 Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg.
  • 15 Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word.
  • 16 Tet. 'n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose;
  • 17 want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges.
  • 18 Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.
  • 19 Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.
  • 20 Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.
  • 21 Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;
  • 22 want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.
  • 23 Mem. Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg.
  • 24 As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.
  • 25 Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.
  • 26 Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.
  • 27 Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;
  • 28 want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.
  • 29 Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.
  • 30 Pe. Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.
  • 31 Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.
  • 32 Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak.
  • 33 Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.
  • 34 Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.
  • 35 Resj. Ek het die goddelose gesien, 'n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos 'n groen inlandse boom.
  • 36 Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.
  • 37 Sjin. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is 'n toekoms vir die man van vrede.
  • 38 Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.
  • 39 Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid.
  • 40 En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.