Psalms 95
Afrikaans Die Heilige Bybel · 11 verses
- 1 Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!
- 2 Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!
- 3 Want die HERE is 'n grote God, ja, 'n groot Koning bo al die gode.
- 4 In wie se hand die diepste plekke van die aarde is, en die toppe van die berge is syne.
- 5 Aan wie die see behoort wat Hy self gemaak het, en die droë land wat sy hande geformeer het.
- 6 Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.
- 7 Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!
- 8 Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie;
- 9 waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.
- 10 Veertig jaar het Ek 'n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is 'n volk met 'n dwalende hart, en hulle ken my weë nie;
- 11 sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!