Psalms 77
  • 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Asaf.
  • 2 My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister.
  • 3 Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word.
  • 4 As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela.
  • 5 U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie.
  • 6 Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare.
  • 7 Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors:
  • 8 Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?
  • 9 Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?
  • 10 Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.
  • 11 Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!
  • 12 Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd
  • 13 en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.
  • 14 o God, u weg is in heiligheid. Wie is 'n groot God soos God?
  • 15 U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.
  • 16 U het u volk met 'n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela.
  • 17 Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.
  • 20 U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie.
  • 21 U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron.