Psalms 60
  • 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Lelie van die Getuienis." 'n Gedig van Dawid, om te onderrig.
  • 2 Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalf duisend.
  • 3 o God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons!
  • 4 U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel!
  • 5 U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink.
  • 6 U het aan die wat u vrees, 'n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela.
  • 7 Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!
  • 8 God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
  • 9 Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
  • 10 Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa!
  • 11 Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?
  • 12 Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
  • 13 Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid.
  • 14 In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.