Psalms 82
  • 1 'n Psalm van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.
  • 2 Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela.
  • 3 Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg.
  • 4 Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.
  • 5 Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel.
  • 6 Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste-
  • 7 nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val.
  • 8 Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.