Psalms 46
  • 1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied.
  • 2 God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.
  • 3 Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.
  • 4 Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
  • 5 Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.
  • 6 God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek.
  • 7 Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
  • 8 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
  • 9 Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
  • 10 wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
  • 11 Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.
  • 12 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.