Psalms 35
Afrikaans Die Heilige Bybel · 28 verses
- 1 'n Psalm van Dawid. HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry!
- 2 Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp!
- 3 En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil!
- 4 Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word!
- 5 Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot.
- 6 Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg!
- 7 Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe.
- 8 Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting!
- 9 Maar my siel sal juig in die HERE, dit sal bly wees in sy heil.
- 10 Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!
- 11 Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my.
- 12 Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel.
- 13 En ek- toe hulle siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem.
- 14 Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur.
- 15 Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou.
- 16 Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my.
- 17 Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af.
- 18 Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys.
- 19 Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie!
- 20 Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land.
- 21 En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien!
- 22 HERE, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie!
- 23 Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak.
- 24 Doen aan my reg na u geregtigheid, HERE my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie!
- 25 Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie!
- 26 Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word!
- 27 Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat 'n welbehae het in die vrede van sy kneg!
- 28 En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.