Psalms 33
Afrikaans Die Heilige Bybel · 22 verses
- 1 o Regverdiges, jubel in die HERE! 'n Loflied betaam die opregtes.
- 2 Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.
- 3 Sing tot sy eer 'n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.
- 4 Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou.
- 5 Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE.
- 6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
- 7 Hy versamel die waters van die see soos 'n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers.
- 8 Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees;
- 9 want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.
- 10 Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.
- 11 Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.
- 12 Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.
- 13 Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.
- 14 Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,
- 15 Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.
- 16 'n Koning word nie verlos deur 'n groot leër, 'n held nie gered deur groot krag nie.
- 17 Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.
- 18 Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag;
- 19 om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.
- 20 Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild;
- 21 want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.
- 22 Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!