Psalms 20
  • 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.
  • 2 Mag die HERE u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die God van Jakob u beskerm!
  • 3 Mag Hy u hulp stuur uit die heiligdom en u ondersteun uit Sion!
  • 4 Mag Hy dink aan al u spysoffers en u brandoffer met welgevalle aansien! Sela.
  • 5 Mag Hy u gee na u hart en al u voornemens vervul!
  • 6 Ons wil juig oor u oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse God. Mag die HERE al u begeertes vervul!
  • 7 Nou weet ek dat die HERE sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand.
  • 8 Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.
  • 9 Húlle het inmekaargesak en geval, maar óns het opgestaan en ons weer opgerig.
  • 10 HERE, verlos die koning! Mag Hy ons verhoor op die dag as ons roep!