Psalms 113
Afrikaans Die Heilige Bybel · 9 verses
- 1 Halleluja! Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE!
- 2 Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid!
- 3 Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!
- 4 Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.
- 5 Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon,
- 6 wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?
- 7 Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef;
- 8 om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk.
- 9 Wat die onvrugbare van die huis laat woon- 'n blye moeder van kinders. Halleluja!