Psalms 69
Afrikaans Die Heilige Bybel · 37 verses
- 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." 'n Psalm van Dawid.
- 2 Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom.
- 3 Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.
- 4 Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God.
- 5 Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig; wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee.
- 6 o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.
- 7 Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, HERE van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel!
- 8 Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig.
- 9 Vreemd het ek vir my broers geword en 'n onbekende vir die seuns van my moeder.
- 10 Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.
- 11 Wat my aangaan, my siel het geween met vas; maar dit het smaadhede vir my geword.
- 12 Ek het ook 'n rougewaad my kleding gemaak en vir hulle 'n spreekwoord geword.
- 13 Die wat in die poort sit, praat van my- ook die spotlied van die wat sterk drank drink.
- 14 Maar ek- my gebed is tot U, o HERE: in die tyd van genade, o God, verhoor my deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u heil!
- 15 Red my uit die modder en laat my nie sink nie; laat my gered word van my haters en uit waterdieptes.
- 16 Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie!
- 17 Verhoor my, o HERE, want u goedertierenheid is goed; wend U tot my na die grootheid van u barmhartighede.
- 18 En verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud. Verhoor my dan gou!
- 19 Kom nader na my siel, verlos dit; bevry my om my vyande ontwil.
- 20 U ken my smaad en my beskaming en my skande; al my teëstanders is voor U.
- 21 Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.
- 22 En hulle het aan my gal gegee as my spys, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.
- 23 Laat hul tafel voor hulle 'n vangnet wees en vir hulle wat sorgeloos is, 'n strik.
- 24 Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie; en maak dat hulle heupe altyddeur wankel.
- 25 Stort oor hulle u grimmigheid uit, en laat u toorngloed hulle inhaal.
- 26 Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner wees nie.
- 27 Want hulle vervolg hom wat deur U swaar getref is, en vertel van die smart van u gewondes.
- 28 Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie.
- 29 Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.
- 30 Maar ek is ellendig en in pyn: laat u hulp, o God, my beskerm!
- 31 Ek wil die Naam van God prys met 'n lied en Hom groot maak met danksegging;
- 32 en dit sal die HERE welgevalliger wees as beeste, as stiere wat horings en gesplitste kloue het.
- 33 As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees; julle wat na God soek, laat julle hart lewe!
- 34 Want die HERE luister na die behoeftiges en verag sy gevangenes nie.
- 35 Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin roer.
- 36 Want God sal Sion verlos en die stede van Juda bou; en daar sal hulle woon en dit besit.
- 37 En die nageslag van sy knegte sal dit beërwe, en die liefhebbers van sy Naam sal daarin woon.