Psalms 45
Afrikaans Die Heilige Bybel · 18 verses
- 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing. 'n Lied van die liefde.
- 2 My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande 'n Koning; my tong is die pen van 'n vaardige skrywer.
- 3 U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig.
- 4 Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;
- 5 ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!
- 6 U pyle is skerp,Volke val onder U!; hulle tref in die hart van die Koning se vyande.
- 7 U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer.
- 8 U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.
- 9 Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.
- 10 Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.
- 11 Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;
- 12 en as die Koning u skoonheid begeer- want Hy is u Heer- buig u dan voor Hom neer.
- 13 En, o dogter van Tirus- met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.
- 14 Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding.
- 15 In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring.
- 16 Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.
- 17 In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.
- 18 U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.