Psalms 56
Afrikaans Die Heilige Bybel · 14 verses
- 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Duif van die ver Terebinte." Van Dawid. 'n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat.
- 2 Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag.
- 3 My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed.
- 4 Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
- 5 Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
- 6 Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen.
- 7 Hulle val aan, lê en loer- hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het.
- 8 Ondanks hul ongeregtigheid- sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God!
- 9 U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
- 10 Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.
- 11 Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys.
- 12 Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan 'n mens my doen?
- 13 Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal;
- 14 want U het my siel gered van die dood- ja, my voete van struikeling- om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.