Psalms 26
  • 1 'n Psalm van Dawid. Doen aan my reg, o HERE, want ék wandel in my opregtheid en vertrou op die HERE sonder om te wankel.
  • 2 Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart;
  • 3 want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid.
  • 4 Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie.
  • 5 Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie.
  • 6 Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE,
  • 7 om die stem van lof te laat hoor en om al u wonders te vertel.
  • 8 HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid.
  • 9 Ruk my siel nie weg saam met die sondaars en my lewe saam met die manne van bloed nie,
  • 10 in wie se hande skandelike dade is, en wie se regterhand vol is van omkopery.
  • 11 Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig.
  • 12 My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings.