Psalms 78
  • 1 'n Onderwysing van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.
  • 2 Ek wil my mond open met 'n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.
  • 3 Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,
  • 4 sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.
  • 5 Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het- om dit aan hulle kinders bekend te maak,
  • 6 sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,
  • 7 en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,
  • 8 en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en wederstrewige geslag, 'n geslag met 'n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.
  • 9 Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.
  • 10 Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.
  • 11 En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.
  • 12 Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan.
  • 13 Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos 'n wal.
  • 14 En Hy het hulle bedags gelei met 'n wolk en die hele nag met 'n lig van vuur.
  • 15 Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede.
  • 16 En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.
  • 17 Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.
  • 18 En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.
  • 19 En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God 'n tafel kan dek in die woestyn?
  • 20 Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het- sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?
  • 21 Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel;
  • 22 omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.
  • 23 En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak;
  • 24 en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee.
  • 25 Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.
  • 26 Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer;
  • 27 en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë;
  • 28 en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings.
  • 29 Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig.
  • 30 Hulle was nie weg van hul begeerte nie- hulle voedsel was nog in hulle mond-
  • 31 toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.
  • 32 Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.
  • 33 So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking.
  • 34 Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek;
  • 35 en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.
  • 36 En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;
  • 37 maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.
  • 38 Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.
  • 39 En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie.
  • 40 Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis;
  • 41 en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.
  • 42 Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;
  • 43 toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan.
  • 44 En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.
  • 45 Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het.
  • 46 En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan.
  • 47 Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp.
  • 48 Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse.
  • 49 Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, 'n uitsending van ongeluksbodes.
  • 50 Hy het 'n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee.
  • 51 En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam.
  • 52 Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos 'n kudde in die woestyn.
  • 53 Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek.
  • 54 En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het.
  • 55 En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in hulle tente laat woon.
  • 56 Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie.
  • 57 En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos 'n bedrieglike boog.
  • 58 En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek.
  • 59 God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.
  • 60 En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.
  • 61 En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.
  • 62 En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.
  • 63 Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie.
  • 64 Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.
  • 65 Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos 'n held wat oorweldig is deur die wyn;
  • 66 en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle 'n ewige smaadheid aangedoen.
  • 67 En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie,
  • 68 maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet.
  • 69 En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het.
  • 70 En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem.
  • 71 Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel.
  • 72 En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.