Psalms 84
Afrikaans Die Heilige Bybel · 13 verses
- 1 Vir die musiekleier; op die Gittiet. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
- 2 Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!
- 3 My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.
- 4 Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!
- 5 Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
- 6 Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
- 7 As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
- 8 Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
- 9 HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.
- 10 o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.
- 11 Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
- 12 Want die HERE God is 'n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.
- 13 HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!