Psalms 90
Afrikaans Die Heilige Bybel · 17 verses
- 1 'n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag.
- 2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.
- 3 U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!
- 4 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos 'n nagwaak.
- 5 Weggespoel het U hulle; hulle word 'n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:
- 6 in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny 'n mens dit af, en dit verdor.
- 7 Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.
- 8 U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.
- 9 Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte.
- 10 Die dae van ons jare- daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
- 11 Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?
- 12 Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!
- 13 Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.
- 14 Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.
- 15 Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het.
- 16 Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.
- 17 En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!