Psalms 7
  • 1 Sjiggajon van Dawid wat hy tot eer van die HERE gesing het weens die woorde van Kus, die Benjaminiet.
  • 2 HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my;
  • 3 sodat hy nie soos 'n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.
  • 4 HERE, my God, as ek dit gedoen het, as daar onreg in my hande is,
  • 5 as ek hóm kwaad aangedoen het wat in vrede met my geleef het (ja, ek het hom gered wat my sonder oorsaak vyandig was),
  • 6 mag die vyand my dan vervolg en inhaal en my lewe teen die grond vertrap en my eer in die stof laat woon. Sela.
  • 7 Staan op, HERE, in u toorn, verhef U teen die grimmigheid van my teëstanders en ontwaak vir my, U wat die reg beveel het!
  • 8 En laat die vergadering van die volke U omring; keer dan bo hulle terug in die hoogte!
  • 9 Die HERE oordeel die volke. Doen aan my reg, HERE, na my geregtigheid en na my onskuld wat by my is.
  • 10 Laat tog die boosheid van die goddelose mense 'n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!
  • 11 My skild is by God wat die opregtes van hart verlos.
  • 12 God is 'n regverdige regter, en 'n God wat elke dag toornig is.
  • 13 As hy hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp; Hy span sy boog en mik daarmee
  • 14 en berei vir hom dodelike werktuie; Hy maak sy pyle brandende wapens.
  • 15 Kyk, hy is in barensweë van onreg en is swanger van moeite; hy baar leuens.
  • 16 Hy het 'n kuil gegrawe en dit uitgehol; maar hy het geval in die vangkuil wat hy gemaak het.
  • 17 Die onheil wat hy gestig het, keer op sy hoof terug, en sy geweld kom op sy skedel neer.
  • 18 Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing.