Psalms 139
  • 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.
  • 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.
  • 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.
  • 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie- of U, HERE, U ken dit geheel en al.
  • 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.
  • 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.
  • 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?
  • 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!
  • 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,
  • 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.
  • 11 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,
  • 12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.
  • 13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
  • 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
  • 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
  • 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
  • 17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
  • 18 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.
  • 19 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!
  • 20 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef- u teëstanders!
  • 21 HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?
  • 22 Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my!
  • 23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;
  • 24 en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!