Psalms 147
  • 1 Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!
  • 2 Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.
  • 3 Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
  • 4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.
  • 5 Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.
  • 6 Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
  • 7 Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter;
  • 8 wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,
  • 9 wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.
  • 10 Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
  • 11 Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
  • 12 o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God!
  • 13 Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.
  • 14 Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,
  • 15 wat sy bevel na die aarde stuur- sy woord loop baie vinnig.
  • 16 Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.
  • 17 Hy werp sy ys heen soos stukke- wie kan bestaan voor sy koue?
  • 18 Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai- die waters loop.
  • 19 Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
  • 20 So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!