Psalms 72
Afrikaans Die Heilige Bybel · 20 verses
- 1 Van Salomo. o God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning.
- 2 Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg.
- 3 Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid.
- 4 Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.
- 5 Hulle sal u vrees solank as die son skyn en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag.
- 6 Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie- 'n swaar reën op die aarde.
- 7 In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.
- 8 En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.
- 9 Die bewoners van dor plekke sal voor hom kniel, en sy vyande sal die stof lek.
- 10 Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.
- 11 Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.
- 12 Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie.
- 13 Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.
- 14 Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
- 15 Mag hy dan lewe! en mag hulle aan hom gee van die goud van Skeba en altyddeur vir hom bid; mag hulle die hele dag hom seën!
- 16 Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!
- 17 Mag sy naam vir ewig wees; mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! En mag al die nasies in hom geseën word, hom gelukkig prys!
- 18 Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen!
- 19 En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.
- 20 Hier eindig die gebede van Dawid, die seun van Isai.