Psalms 28
Afrikaans Die Heilige Bybel · 9 verses
- 1 'n Psalm van Dawid. Ek roep U aan, o HERE! My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie.
- 2 Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.
- 3 Ruk my nie weg saam met die goddelose en saam met die werkers van ongeregtigheid nie; wat van vrede spreek met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart.
- 4 Gee hulle na hul dade en na die boosheid van hul handelinge; gee hulle na die werk van hul hande; vergeld hulle na hulle dade.
- 5 Omdat hulle nie let op die dade van die HERE of op die werk van sy hande nie, sal Hy hulle afbreek en hulle nie bou nie.
- 6 Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor.
- 7 Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang.
- 8 Die HERE is 'n sterkte vir hulle, en Hy is 'n vesting van verlossing vir sy gesalfde.
- 9 Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle 'n herder en dra hulle tot in ewigheid.