Psalms 17
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 HERE, hoor 'n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe.
- 2 Laat my reg van u aangesig uitgaan; laat u oë regverdig sien.
- 3 U het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie.
- 4 Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy.
- 5 My gange het vasgehou aan u spore, my voetstappe het nie gewankel nie.
- 6 Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord!
- 7 Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!
- 8 Bewaar my soos 'n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels
- 9 teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring.
- 10 Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig.
- 11 Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek.
- 12 Hy is soos 'n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos 'n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê.
- 13 Staan op, HERE, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard;
- 14 met u hand van die manne, o HERE, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly.
- 15 Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.