Psalms 114
  • 1 Toe Israel uit Egipte getrek het, die huis van Jakob uit 'n volk met 'n vreemde taal,
  • 2 het Juda sy heiligdom geword, Israel sy ryksgebied.
  • 3 Die see het dit gesien en gevlug; die Jordaan het agteruitgewyk.
  • 4 Die berge het rondgespring soos ramme, die heuwels soos lammers.
  • 5 Wat is dit met jou, o see, dat jy vlug? o Jordaan, dat jy agteruitwyk?
  • 6 o Berge, dat julle rondspring soos ramme? o Heuwels, soos lammers?
  • 7 Beef, aarde, voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die God van Jakob,
  • 8 wat die rots verander het in 'n waterplas, die keisteen in 'n waterfontein!