Psalms 44
Afrikaans Die Heilige Bybel · 27 verses
- 1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing.
- 2 o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: 'n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.
- 3 U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit.
- 4 Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U 'n welbehae in hulle gehad het.
- 5 U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob.
- 6 Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan.
- 7 Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie;
- 8 maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.
- 9 In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.
- 10 En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie.
- 11 U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus.
- 12 U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.
- 13 U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie.
- 14 U maak ons 'n smaad vir ons bure, 'n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.
- 15 U maak ons 'n spreekwoord onder die nasies, 'n hoofskudding onder die volke.
- 16 My skande is die hele dag voor my, en die skaamte van my aangesig oordek my;
- 17 weens die stem van die smader en lasteraar, weens die blik van die vyand en wraakgierige.
- 18 Dit alles het oor ons gekom, en tog het ons U nie vergeet en nie bedrieglik gehandel teen u verbond nie.
- 19 Ons hart het nie agteruitgewyk nie, en ons gange het van u pad nie afgebuig nie,
- 20 alhoewel U ons verbrysel het in 'n plek van jakkalse en ons met 'n doodskaduwee oordek.
- 21 As ons die Naam van onse God vergeet het en ons hande uitgebrei het na 'n vreemde god-
- 22 sou God dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart.
- 23 Maar om U ontwil word ons die hele dag gedood; ons word gereken as slagskape.
- 24 Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie!
- 25 Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?
- 26 Want ons siel is in die stof neergebuig; ons buik kleef aan die aarde.
- 27 Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil!